Jou Geloof moet dade word.

Jakobus 2:14-16(NLV).

“My broers en susters, wat help dit as mens se jy het Geloof, maar jou lewe wys dit nie? So ‘n geloof kan jou nie verlos nie. Se nou jy sien ‘n Christen broer of suster wat kos en klere nodig het, en jy se: “ Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet, maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan?”

Jou geloof moet dade word.

Hoeveel kere het ons nie al iemand wat vra vir kos of klere, net geignoreer, en gemaak dat ons wegkom nie? Ons vermy oogkontak, want ons besef ons gaan later skuldig voel en ons gewete gaan ons aankla. Ons oordeel liewer in selfsug, in plaas daarvan om dieper te kyk waarmee hierdie mense moet “cope”.

Dit moet vreeslik wees om te weet, vanaand het jy nie eers ‘n plekkie om jou kop neer te le nie. Dan slaap jy nog onrustig ook, want sien die vyand se aanvalle kom so onverwags, deur aanvalle en diefstal, en ja selfs moord. In die dag het die son jou seer en rou gebrand, soos jy gepleit het net vir water om te drink, en ‘n stukkie brood om te eet. Jou maag grom van hongerte, en dit laat jou gedagtes die heeltyd draai om kos, en jou lippe smag na water om te drink.

Jy raak hard en gevoelloos van mense wat jou net ignoreer of sleg se, selfs wanneer jy pleit vir hulp. Hulle loop met lekker dinge soos roomys, kos en koeldrank by jou verby, en as jy vra word jy sleg behandel, net soos ‘n uitgeworpene wat nie die reg verdien om te lewe nie. Jy het jare laas net ‘n skotteltjie water gehad om jou hare, lyf en voete te was. Mense druk hulle neuse toe, en se nee, en hardloop liewer weg.

Kyk ons dalk nie te maklik weg van sulke mense nie, in plaas daarvan om te help nie? In die winter moet jy op yskoue sement of gras slaap, en jy gebruik koerante en kartonne net om warm te kan bly.  Jakobus 2:17 se: “ Om te glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie-sulke geloof is dood en help niks.”

Ons voorvader Abraham se geloof het dade geword. Hy het sy seun Isak op die altaar gele, en God het hom vrygespreek. Dit wys weereens dat geloof gepaard gaan met dade. Laat ons nie ‘n medemens se pleidooie miskyk nie. Niemand gaan armer word deur net ‘n botteltjie water of ‘n brood te saai nie.

Party van ons is so bevoorreg, en ons dank die Here nie eens daarvoor nie. Wanneer jy by die huis kom, en jy sluit jou deur vir veiligheid, maak jou yskas oop om te kyk wat jy vir aandete kan maak, en jy krane oop draai om te bad of stort, dink asseblief aan daardie mense wat jy so sleg behandel het deur die dag. Jy klim in ‘n heerlike bed, en het ‘n kombers om jou warm te hou, en jy slaap rustig.

Jy dink nie eens aan die mense nie, want jy is geseend, en het genoeg.

Laat asseblief toe dat die Here, en die Heilige Gees eers in jou hart werk voordat daar weer tye van “ek het nie, of ongeskikheid, of weg te hardloop” van iemand af  kom wat pleit vir hulp.

Louise van der Westhuizen.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *