Vergifnis maak vry.

Ons almal het al iemand in ons lewens gehad wat ons te na gekom het.  Soms is dit mense wat baie na aan jou was soos vriende, broers, susters, ouers, ensv, wat vir jou heelwat skade en seer veroorsaak het. Hulle het  jou verneder, of sommer net woedend gemaak het.  Ons eerste  reaksie daarop is dat ons sommer alle deure toemaak vir hulle, want ons voel seergemaak, en ons wil nooit weer iets met hulle te doen he nie.  Verbittering en selfsug kry die oorhand, en ons verloor perspektief, want ons kry onsself so jammer oor die dinge wat hulle aan ons  gedoen het.  As iemand  dan eendag met ons praat oor vergifnis, word al die ou wonde weer oopgekrap, en ons word aggresief en wil die persoon net wegjaag en se man, jy weet nie waarvan jy praat nie.  Besef jy hoe die persoon my seergemaak en verneder het?

Kom ek vra jou ‘n paar vrae, is daar vrede in jou hart en lewe as jy so voel?  Hoe voel jy in jou binneste, verbitterd en seergemaak?  Is dit vir jou lekker as iemand jou vergewe? Hoekom hou ons nie dan daarvan, om ook ander mense te kan vergewe nie?  Is ons te trots, of wil ons net nie vergewe nie?  Is dit lekker om altyd jouself te kasty met seer en onvergewingsgesindheid, en gaan ons in selfbejammering leef vir die res van ons lewens?

Het jy al daaraan gedink hoeveel keer God jou al vergewe het?  Hy het selfs Sy Seun Jesus Christus gegee, en Hy het aan die kruis gesterwe vir VERGIFNIS van ons elkeen se sonde.  Hy was verneder, bespot en het  gely sodat ons vergifnis kon kry, en dan besef ons, ek wil ander mense aan die keel gryp en hulle verwurg, net omdat ek nie bereid is om te vergewe nie.

Wow, ja ons het almal al onvergewingsgesindheid toegepas en beleef, nie waar nie?  Jy se dalk jy weet nie waarvan jy praat nie man, besef jy wat die persoon aan my gedoen het, ek sal nooit kan vergewe nie.  Nooit is ‘n baie lang tyd my sussie, en wat nou as Jesus geweier het om ons te vergewe, het jy al daaraan gedink?  Maar elkeen van ons het die versekering dat ons vergewe is, daarvoor het Jesus Christus met Sy lewe betaal.   Hoe voel ons daaroor, ja ons het vrede en ons is vry!

Wil jy nie ook maar vryspreek en vergewe nie?  Mense gaan mekaar seermaak en verneder, maar moenie jou hart vol maak met bitterheid nie.  Moenie vasgeboei raak deur dinge en goed wat mense jou gedoen het nie.  Spreek hulle vry, vergewe, en gaan makliker aan met jou lewe.

Word vry, en bly vry!

Louise van der Westhuizen.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *