Oppas dat jy nie met klippe gooi nie.

                                    Die vrou wat op heterdaad betrap is. Johannes 8.

                        

     In hierdie gedeelte lees ons hoeveel lokvalle die skrifgeleerdes en Fariseers  vir Jesus probeer stel het om Hom uit te vang.  Tenspyte daarvan dat Jesus geweet het wat die

Fariseers se planne met Hom was, het Hy Hom nie daaraan gesteur nie. Hy het weer na die tempel toe gegaan om daar met die mense oor God te gesels. In daardie oomblik gebeur dit dat die Fariseers toe daar aankom met ‘n vrou wat seksueel ontrou was aan haar man, en hulle gooi haar voor Jesus neer.

Kan jy jou voorstel hoe vreesbevange hierdie vrou was? Die Fariseers het haar met geweld uit haar bed uitgeruk, en sy moes veg vir haar lewe. Dink daaraan hoe sy gelyk het teen die tyd wat hulle haar voor Jesus neergegooi het. Die vrou het gebewe, en was vol bloed soos sy haarself moes probeer beskerm het teen die Fariseers. Die Fariseers het begin om dit wat die vrou gedoen het, uit te bulder, en dit was nie lank nie of die mense het begin saamdrom  om te sien wat aangaan. Die Fariseers se toe vir Jesus:”Meneer, jy is mos die hele tyd besig om mense te vertel wat hulle moet doen. Nou-ja, ons het hierdie vrou op heterdaad betrap toe sy by ‘n man geslaap het wat nie haar eie was nie. Moses se wet vertel vir ons presies wat ons met so ‘n vrou moet maak, sy moet dood. Met klippe moet ons die laaste  asem uit haar uitgooi. Maar se u ‘n bietjie vir ons: wat dink u moet ons met die vrou maak?”

Die Fariseers het egter ook nie die wet nagekom nie, want volgens Levitikus 20:10 en Deuteronomium 22:22, moes die man ook saam met die vrou gestenig word wat ontrouheid aanbetref. Maar hulle wou die vrou alleen laat stenig het. So stel die Fariseers vir Jesus weereens ‘n lokval. As Jesus sou se dat sy nie gestenig moes word nie, sou hulle Hom daarvan beskuldig dat Hy nie die wet van Moses nakom nie. As Hy egter sou se dat hulle haar moet stenig, sou hulle Jesus aan die Romeinse owerheid uitlewer, want die Jode was verbied om self doodsvonnisse te voltrek.

Jesus se hart was vol pyn op daardie oomblik, want Hy het die onmenslikheid gesien waarmee die Fariseers die vrou behandel het, en hoe sy voor Hom neergegooi was. Hy het egter ook geweet wat die Fariseers se motiewe was, en ek dink daar was ‘n mengsel van gevoelens in Jesus se hart. Hartseer en woede moes binne in Hom gekook het. Daar waar Jesus gesit het, het Hy vooroor gebuig en met Sy vinger iets op die grond geskryf. Ek glo Jesus het daar geskryf: Vergifnis!  Die Joodse geleerdes het egter aangehou neul. Uiteindelik kyk Jesus op en se vir hulle:” Nou goed, gaan maar aan. Julle weet skynbaar wat om te doen. Maar daar is een voorwaarde:  die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem, en hy moet die eerste klip optel en haar daarmee gooi.”  Weereens het Jesus vooroor gebuig en iets op die grond geskryf. Dalk het Hy geskryf:  gaan aan, maak my dag!   Jesus het daardie vrou so liefgehad, nie haar dade nie. Hy stel Sy eie lewe in gevaar om vir haar in die bresse te tree. Waar was die man wat saam met die vrou seksueel ontrou was? Waar was die man toe die vrou hom nodig gehad het? Hoekom het hy haar nie verdedig soos Jesus gedoen het nie?  Nee, hy het net verdwyn, want om van hom te verwag dat hy ‘n pad saam met haar moes stap. Dit was te veel gevra.

Dan kom Jesus, ‘n Ware man, wat heldhaftig staan tussen die vrou en die Fariseers wat haar probeer doodmaak. Hy het niks om te wen daardeur nie, maar alles om te verloor, en Hy beskerm die vrou en vou haar toe in Sy Liefde en Genade. Ek kan in my geestesoog sien hoe Jesus na haar toe draai, en haar naakte liggaam met ‘n kleed bedek. Op daardie oomblik is Hy ‘n Ware man vir haar. Hy hou haar styf vas terwyl sy bewe en huil. Watter verligting moes dit nie vir die vrou gewees het  nie. Ek twyfel vir geen oomblik daaraan dat Jesus ook die trane van haar oe afgevee het nie.  Jesus vra toe vir haar: “ Waar is al daardie mense? Kon niemand sover kom om ‘n klip op jou te gooi nie?”  Die vrou antwoord:”Nie eers een nie, Here.”  Jesus se toe:”Ek gaan dit ook nie doen nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar ‘n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense ‘n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef.”

Nerens in hierdie gedeelte het Jesus hierdie vrou geoordeel nie, maar haar in Sy Liefde beskerm, en vergewe. Deur die voorbeeld het Hy die Fariseers ‘n ware les geleer. Om aan God gehoorsaam te wees, nie te oordeel nie, en te vergewe.

Ons besef dat ons mekaar altyd so maklik met klippe kan gooi deur ons woorde en dade. Waarom stenig ons mekaar? Nie een van ons is volmaak nie, nee, ons is in sonde in die wereld in gebring. Hoekom oordeel ons mekaar? Jesus is so Liefdevol, Genadig en Getrou, en Hy het ons oneindig lief. Dit doen my hart so goed om te kan weet daar is ‘n Ware man wat my liefhet, beskerm en Getrou is aan my. Ek is so bly Jesus is aan my kant, voel jou hart ook so?

Laat ons mekaar nie meer oordeel nie, maar die ware les leer van God se Liefde, Sy Beskerming, Sy Genade en Sy Getrouheid. Kom ons gehoorsaam God.

 

Louise van der Westhuizen.

 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *