Is ons bereid om soos klei in die Hande van die Pottebakker te wees?

                          Die Pottebakker en die klei.  Jeremia 18:1-12.

          Is ons bereid om soos klei, in die Hande van die Pottebakker te wees? 

Kom ons staan ‘n tydjie af om die pottebakker met sy pottebakkerswiel, en sy klei dop te hou.  Keer op keer voordat hy iets nuuts begin vorm met die klei, maak hy seker dat die wiel skoon is, en dat die wiel in ‘n goeie toestand is. In sy geheue is al klaar ‘n prentjie gevorm oor die spesiale item wat hy met sy klei wil vorm. Die pottebakker weet hy wil iets kosbaars vorm uit die klei.

In Jeremia 18, lees ons dat die Here vir Jeremia die boodskap gee om na die werkplek van die pottebakker toe te gaan. Die Here wou daar met hom praat, en ek glo dat Hy deur die aksies van die pottebakker met Jeremia wou praat. Jeremia was gehoorsaam aan die Here, en hy het na die werkplek van die pottebakker toe gegaan. Daar aangekom, kry hy die pottebakker waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk. Maar die pot waarmee hy besig was, was nie ‘n sukses nie. Hy neem toe weer die klei, druk dit inmekaar en begin weer om ‘n nuwe pot te vorm soos wat hy dit wou he.

Toe begin die Here met Jeremia te spreek : “O Israel, kan Ek nie met julle maak soos die pottebakker met die klei maak nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker, so is julle in My Hande.” God se volk was vasgevang in sonde, en was nie gehoorsaam aan Hom nie.

Soos die pottebakker, is dit God se erns om iets nuttig van Sy volk te maak. Daarom bly Hy geduldig, en kan Hy selfs nou nog van Sy voorneme afsien om die voorwerp-in-wording te verwoes. Hy is ook by magte om voor te begin, en van ons mislukkings ‘n sukses te maak.

Beskou jy jouself dalk as ‘n mislukking? God se nee, gee vir My jou bondel klei, le dit neer in My Hande, en Ek sal aan jou bewys dat jy nie ‘n mislukking is nie, maar dat jy ‘n pragstuk kan wees. Kom ons laat toe dat God ons kan vorm tot ‘n nuwe mens, ‘n nuwe pot, wat Hy kan vertoon en kan gebruik tot Eer en Verheerliking van Sy Naam in Sy Koninkryk.  God kan dieselfde klei oor en oor vorm, en daardeur het ons elke keer ‘n kans vir ‘n nuwe begin saam met God.

 

Gebed:

Hemelse Vader, soos die ou-ou liedjie gaan, wil ek weereens vandag my bondel klei-my lewe in U hande plaas, en ek wil bid: Doen slegs U Wil Heer, U Wil met my, U Pottebakker met my die klei. Vorm my en maak my, net soos U Wil, op U slegs wag ek, nederig en stil.

Ek is moeg daarvoor om soos ‘n mislukking te voel, ek het ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe pot nodig Here.  Ek bid dat U Hande my weer sal vorm sodat U my kan gebruik in U koninkryk. Dankie vir al die stukkende potte in my lewe, want daaruit het U elke keer net ‘n verbeterde pot gemaak.

Maak my nuwe pot weer nuttig in U Koninkryk.

Dankie Jesus.

Amen.

 

Louise van der Westhuizen.

 

 

 

 

 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *