Bring die verlore skape terug na God se kraal.

                      Die Gelykenis van die verlore skaap.   Lukas 15:3-7.                      

Daar is soveel  mense in ons samelewing wat uitroep om hulp.  ‘n Man sit onder ‘n boom, alleen en verstote.  Sy klere en skoene is stukkend, hy is vuil, honger en hy kry koud.  Sy oe is hard en dof, daar is geen hoop meer vir hom oor nie.  Daar is nie familie nie, hy het nie ‘n dak oor sy kop nie, en daar is nie werk nie.  Dit voel vir hom asof almal hom verwerp het, alle hoop wat hy gehad het, het verdwyn.  Vir hom is daar nie meer ‘n more nie, hy probeer net om te kan oorleef vir vandag.  Sulke mense voel geestelik en fisies bankrot.  Elkeen het ‘n verhaal om te vertel, hy was ook eens op ‘n tyd welaf, met ‘n familie, ‘n werk, ‘n huis en ‘n kar. Hy het kos gehad om te eet, en klere om aan te trek, maar iewers op die lewenspad het hy verdwaal, en kon nie weer die pad terug vind nie.

Gelukkig is daar hoop vir sulke mense. Vir Jesus is dit belangrik dat elke verlore skaap sal deel word van Sy kraal.  As een weg is, gaan soek Hy daardie een en tel hom op Sy skouers, en gaan vier fees saam met Sy vriende. Die ander 99 wat Hy alleen los, weet Hy is veilig in die trop

Hoe voel jou gemoedstoestand vandag?  Het jy dalk ook by daardie punt in jou lewe gekom waar jy uitgewerp en verstote voel, eensaam en sonder hoop?  Die vyand jok vir jou kind van God.  Vir die Here is elkeen belangrik, Hy sal jou gaan soek want jy is belangrik vir Hom.  Al sit jy vandag op die ashoop, Hy sal jou terugbring na Sy Vaderhart, Sy kraal toe.  Hy is te lief vir jou om jou te los waar jy is.

Kom ons kyk met nuwe oe na die uitgeworpe mense in ons samelewing.  Is daar nie dalk ‘n manier waarop ons hierdie mense kan teruglei na die Vader se kraal toe nie?  Laat ons sterk waak teen geestelike hoogmoed.  Weet jy, dis so menswees dat ons mense veroordeel wat deur ‘n moeilike tyd gaan.  Ons was elkeen daar op die ashoop van die lewe in ‘n stadium in ons lewens, soos Job.

Laat ons help soek na die verlore skape.  Kom ons stel rerig belang in ons medemens, en ons hou op om weg te kyk elke keer wanneer ons so ‘n persoon sien.  Laat ons nie mense oordeel en afskryf nie, want wie weet, more of oormore kan ons dalk self in dieselfde situasie beland.  Kom ons bid vir sulke mense, en staan hulle by in tye van wanhoop.  God soek mense wat verlore is, want Hy wil sulke mense, saam met ons almal in Sy kraal he. 

Gebed:

Here Jesus, maak ons oe en ore oop vir die geroep van die verlore skape .  Daar is so baie Here, help ons om hulle te gaan soek, en hulle nie mis te kyk  nie. Ons wil hulle terugbring na U kraal toe waar U hulle sal toevou in U Liefde, en hulle goeie versorging sal kry, want U sorg baie mooi vir U skape.

Amen.

Louise van der Westhuizen.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *