Hoe lyk ons tuin?

Lukas 8:4-15. Die Gelykenis van die saaier.

Jesus het hierdie gelykenis van die saaier gebruik om vir ons te kan verduidelik hoe die saad gebruik moet word, wat ons saai, en hoe dit moet groei.  Dit laat my dink aan ons elkeen se eie tuin, wat ons plant in ons lewens, hoe ons dit versorg en of wat ons geplant het vrugbaar groei vir die Here.  God gee vir ons die Saad, dit is Sy Woord. Ons het ‘n keuse wat ons in die grond plant en hoe die saad sal groei.  Dit wat ons saai en uitleef elke dag kan in vier dele opgedeel word.

Die pad.

Ons saai saad in ons tuin met die hoop dat dit goed sal opkom en groei, maar dan kom daar gebaande wee in ons lewens.  Wereldse dinge en begeertes kry die oorhand, en ons bly onveranderlik en vind dit moeilik om weer op die regte pad te kan uitkom.  Die vyand steel van ons goeie saad, vervang dit met leuens, en sorg dat ons tuin nie ‘n goeie oes sal oplewer nie.  Ons hoor die boodskap van God, maar die duiwel steel dit en verhoed mense om te glo en gered te word.

Klippe en rotse.

Wanneer onvergewensgesindheid en bitterheid in ons harte is, kan die Heilige Gees nie in ons lewens werk nie.  Ons harte word soos klip, en Jesus kan ons nie bereik om ons te vorm soos Hy wil nie.  Ons tuin was droog en was nie nat gemaak met God se Woord nie. Sy Saad kon nie groei in hierdie tuin nie.  Klipperige grond is mense wat God se boodskap aanhoor, maar soos jong plantjies in die grond het hulle nie diep wortels nie. 

Dissels en dorings. 

‘n Deel het geval waar dorings opgeskiet en die tenger blare versmoor het. Ons saad het versmoor deur twyfel in God en Sy Woord. Die genietinge van die wereld was belangriker as God. Bossies en dorings het oral uitgekom en gekeer dat ons saad enige vrug sou lewer. Ons tuin stuur op verwoesting af. Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit  verdring deur sorge, rykdom en plesier. En so groei hulle nooit tot volwassenheid nie.

Vrugbare grond. 

Hierdie saad het gegroei en ‘n oes gelewer honderd maal soveel as wat geplant is. God is die Landbouer van ons tuin en as ons Hom toelaat  in ons tuin, sal Hy sorg dat ons altyd vrugbare grond en oeste sal oplewer. Hy saai dit in ons harte en in ons lewens in.

Laat ons eie wil nie seevier nie, maar die wil van God, Hy vorm ons en gebruik die oeste wat ons tuin oplewer tot Eer en Verheerliking van Sy Naam.

Kom laat die Landbouer werk in ons tuine.  Vrugbare grond lyk mooi, en dit laat jou tuin floreer.  Jesus smag daarna om ons te kan gebruik sonder dissels en dorings, klippe,rotse en gebaande wee. Dan sal ons tuin konstant ‘n goeie oes oplewer.  Het God se Saad in vrugbare grond geval in jou tuin?  Dan is lewe en oorvloed jou toekoms.

Louise van der Westhuizen.

 

 

 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *