Ek het so baie om voor dankbaar te kan wees.

1 Tessalonisense 5:18.(NLV)

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag.

Terwyl ek vanoggend besig was met my stiltetyd, kom die vraag by my op. Het ek dit eintlik verdien om vanoggend te kon opstaan, ‘n beker koffie te kon drink, en my Bybel te kon neem, en rustig te kon sit en verkeer saam met God uit Sy Woord? Nee, ons het eintlik niks gedoen om dit te kan verdien nie, want Jesus het dit klaar vir ons aan die Kruis gedoen. 

Ek besef hoe gelukkig ek eintlik is om hier te kan sit vandag. Jesus het oor ons elkeen gewaak deur die nag, en met Sy groot Liefde vir ons, het Hy ons wakker gemaak deur Sy asem weer in ons te kon blaas, sodat ons weer wakker kon word, en ‘n nuwe dag vir ons te kon skenk. Ek kyk af na my hande wat God se Woord vashou, en ek besef, sjoe wat ‘n voorreg!

Is dit nie so dat ons soms alle ledemate en organe in ons liggame so as vanselfsprekend aanvaar nie? Ons se nooit genoeg dankie vir ‘n gesonde brein, ore wat kan hoor, oe wat kan sien, ‘n neus wat kan ruik, en vir ‘n mond, en tong wat kan praat nie. Ons het ‘n gesonde hart wat klop, inwendige organe wat reg funksioneer. Ons het voete en bene waarmee ons lekker kan stap, arms wat mense kan omhels, en hande wat swaar goed kan dra, en kan raakvat, ag en nog soveel meer….

Ons is so bevoorreg, en so uniek en besonders geskape, besef ons dit as ons elke oggend in die spieel kyk, of sien ons onsself anders? Dalk kraak ons onsself af met dinge soos: kyk hoe vet is ek, of kyk hoeveel plooie het ek, my tande is skeef, en my hare is die verkeerde kleur, en ek wens ek was langer en maerder… en, so kan ons aangaan ne? Dink nou net daaraan as jy nou nie meer daardie dele van jou liggaam waarmee jy so ontevrede is, nie meer gehad het nie, wat dan?

Wat as jy nie meer kon sien nie, sou jy dan tevrede wees? Ek besef hoe verkeerd ek is met hierdie sieninge van myself, want kind van God, dit is nie hoe God jou en my sien nie. Hy sien ons elkeen so besonders en uniek. Want voordat ek nog in die moederskoot gevorm was, het Hy al geweet hoe ek gaan lyk, my naam sou wees, en wat my doel op aarde sou wees. Hy het elkeen van ons toegerus met ons eie talente en gawes.

Vandag kan ek net bely en se dat ek jammer is oor my sieninge van myself Here, wat soms so verkeerd is. Dankie Here vir elke ledemaat en organe en selle in my liggaam. Leer my om my liggaam beskikbaar te sal stel,en so ook sal sien, as ‘n tempel van U. En net so lief soos wat U vir my is, moet ek ook vir myself en vir my medemens kan wees. Help my daardeur Here sodat ek my liggaam sal oppas, en sal besef hoe uniek en besonders ek werklik in U en deur U is. Help my om rein te kan bly vir U my God. En dankie dat alles in my liggaam reg funksioneer, en dat ek so geseend is om alles te kan gebruik.

Amen.

Louise van der Westhuizen.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *